LEXUS PAS NAATLOOS IN BY VERSNIT

Lexus het onlangs sy buiging by ’n eksklusiewe byeenkoms in die Wes-Kaap gemaak waar dié ikoniese weeldemotor-fabrikaat naatloos by die kuns, kultuur en musiek van hierdie jaarlikse Versnit-musiekfees ingeskakel het.

Die byeenkoms, wat op die indrukwekkende Rust-en-Vrede-wynlandgoed in Stellenbosch gehou is, was soos ’n goeie vermenging van uitsonderlike wyn met die beste eienskappe van verskillende vennote, waaronder die reeks weeldemotors wat Lexus die afgelope bykans drie dekades een van die wêreld se voorkeur-motorreekse gemaak het.

Lexus-voertuie is net soos goeie wyn en puik musiek sinoniem met weelde en luuksheid. Hierdie spog-handelsmerk is veel meer as net alledaagse vervoer, en bied eienaars ’n luukse ervaring met elke draai van die wiel.

Die Versnit-fees het buiten Lexus se jongste reeks modelle die talent van Suid-Afrika se voorste sangers en liedjieskrywers ten toon gestel – onder wie Corlea Botha, Stef Bos en Coenie de Villiers.

Lexus se ontwerp-benadering verwys na die vermenging van klaarblyklik teenoorgestelde idees en konsepte om nuwe en unieke ry-ervarings te stimuleer.

Net soos die regte wyn met die regte musiek in die agtergrond, pas hierdie beginsel goed by Versnit, waar die toevoeging van verskillende mediums saamspan om – tipies aan Lexus – ’n algehele nuwe sensasie en ervaring te skep.

“Die ontwerpfilosofie van ’n weeldemotor-fabrikaat soos Lexus vermeng naatloos met die soort leefstyl wat by ’n byeenkoms soos Versnit pas, wat – net soos in die geval van Lexus – op die fynproewer gerig is wat uitmuntendheid te waardeer,” sê Calvyn Hamman, Lexus se senior vise-president van bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors.

“Klante wat ’n Lexus aanskaf, word reeds in hul alledaagse lewe deur uitmuntende vakmanskap omring, en is mense wat van meet af ’n fyn oog vir egtheid het. Lexus is aan die voorpunt van nuwe tegnologie, wat deur voertuie soos die LFA en LC500 wat binnekort in Suid-Afrika bekend gestel word, ten toon gestel word.

“Alles gaan daaroor om Lexus-eienaars van ’n geleentheid vir ’n ongelooflike ervaring te voorsien,” sê Hamman.

EINDE